Ek en my man bly tans in Suid-Afrika nadat ons vir ʼn paar jaar woonagtig was in Europa. Ons het drie volwasse kinders en ’n paar worshondjies. Ons is lief om te reis en mooi plekke te ontdek. Ek het ’n hart vir mense. Ek is lief vir die natuur, digkuns, skryf, verf, musiek en om te bak en brou in die kombuis. Ek hou daarvan om alles om my mooi te maak en om die innerlike skoonheid van mense raak te sien en te waardeer.
Die Lelieblom is nie net ’n boek nie, dit is ’n leefstyl. In Die Lelieblom deel ek ’n kort outobiografie met gedagtes en idees wat jou bemoedig en bemagtig vir die stap op jou lewenspad. Ons almal stap ’n pad in die lewe. Soms kaalvoet op ’n grondpad met gevaarlike afdraai paadjies. Ons weet nie wat om die draai vir ons wag nie, en dit sal almal baie help indien ons ’n bietjie voorbereid is op die lewe.
Soos daar in Engels gesê word: “Life happens” en dit is belangrik wat ons dan daarmee doen wat bepaal of ons sal oorleef en blom en of ons net sal verwelk en wegkwyn. Ek vergelyk ons lewe met ’n Lelieblom (Calla Lelie) en die simboliek daaraan gekoppel: eerlikheid, opregtheid, innerlike skoonheid en kennis. Innerlike skoonheid gaan vir my hand aan hand met kennis van God, ’n ware liefde en verhouding met Jesus Christus, ons Hemelse Vader en God. Al die antwoorde wat ons nodig het vir ons reis of die pad wat ons stap, hier op aarde sal ons in die handleiding vir die lewe vind, die Bybel. Dit is waar ek antwoorde gevind het en deel dit graag.
Ek het ook ń passie vir die natuur en is geïnteresseerd in natuurlike genesing sowel as die gebruik van natuurlike lewensstylprodukte. Ek glo dat geestelike welstand, ń gesonde liggaam, ń goeie lewenstyl en geestelike groei ń sleutelrol speel in die vind van vreugde in die lewe.
Daarom is dit belangrik om te besef dat ons onsself moet lief hê en goed vir onsself moet sorg, sodat ons optimaal kan groei en ń vreugdevolle lewe kan lei. Hierdie lewensstyl sal mense aanmoedig om geestelik sterk te word en om hul ware self te ontdek. Sodat ons kan besef wie ons eintlik in God se oë is en nie soos die wêreld ons sien nie. Dit is hierdie leefstyl wat ons vreugde bring sodat ons ons volle potensiaal kan bereik.